– nie net vir leerders van die Oos-Vrystaat nie, maar ook vir jongmense van ver buite ons streek vir wie Witteberg ‘n tuiste is
Witteberg bied alles wat van ‘n skool van sy kaliber verwag word – uitstaande akademiese onderrig, sport- en kultuurgeleenthede sonder gelyke, en ‘n kultuur wat verseker ‘n Witteberg se bloed bly immer blou.
Dié skool se hart klop vir élkeen van sy leerders. By Witteberg is elke leerder uniek. Elke leerder ‘n meesterstuk.
Agt dekades gelede, in Bethlehem in die hart van die Oos-Vrystaat, het ‘n nuut gestigte skool sy deure oopgemaak en die taak van onderrig met minder as 300 leerders aangepak.
Sedertdien vorm Hoërskool Witteberg die lewens van generasie op generasie jongmense van oor die land heen.
Hoërskool Witteberg is aanvanklik, in 1945, as Bethlehem Hoër Handelskool gestig. In 1972 is die skool na ‘n akademiese hoërskool verander – met ‘n nuwe naam, nuwe skoollied,
nuwe skooluniform en nuwe doelwitte. Witteberg.
Danksy vinnige vooruitgang hou Witteberg sedert 1976 ‘n skoolrol van meer as 500 leerders.
In die jare tagtig word ‘n nuwe skoolsaal, administratiewe blok en nog klaskamers in gebruik geneem. En sedertdien is ‘n kleinteater, tennis- en netbalbane, rugby- en hokkievelde, ‘n astro-hokkieveld, twee klubhuise, ‘n binnenshuise sportsentrum, gimnasium en fisioterapeutspreekkamer tot die infrastruktuur van die skool gevoeg.
Huis Witteberg is ‘n koshuis en ‘n tuiste vir sy leerders. Hier bied vyf ten volle bewoonde vleuels ’n huis aan leerders van oor die hele land. ‘n Vloot van ses busse vervoer koshuisleerders na en van die skool.
Tans het Witteberg 850+ ingeskrewe multikulturele leerders en ‘n personeel van
49, met 26 vakke wat in Engels en Afrikaans doseer word. Vandag verseker ‘n verskeidenheid sportkodes en kultuuraktiwiteite ’n gebalanseerde skoollewe aan Wittebergers – en lewer boonop talle provinsiale en nasionale sterre op!