Krieket is ongetwyfeld ‘n spel wat mens nederig hou asook om die enkele oomblikke te waardeer waar een individu ‘n daadwerklike verskil in ‘n span se vertoning kan maak. Hierdie spel skep nie net die geleentheid om vaardighede te ontwikkel nie, maar ook die geleentheid om leiers te ontwikkel wat verantwoordelikheid neem vir besluite wat ‘n wen of verloor kan veroorsaak.
Krieket is sonder twyfel ‘n komplekse spel waar taktiese denke ‘n kaptein soos ‘n wafferse generaal laat optree en sy manskappe bestuur en adviseer op en van die veld af. En wanneer wolke saampak of die laaste aflewering gemaak is, bied hierdie voorreg jou as speler ‘n terugblik op die enkele oomblikke van briljantheid en ongeloof wat jou ‘n leeftyd lank sal bybly.
Witteberg beskik oor seuns en dogterskrieket. Ons is dankbaar dat daar na ‘n seisoen of twee weer mededingende wedstryde gespeel kon word en dat ons krieketspelers die geleentheid kon kry om ook vir die streeks en provinsiale spanne deel te neem. Ons is ook bevoorreg dat ons eerste en o15A span die geleentheid het om in die Noord-Vrystaat Liga deel te neem en ook mededingende krieket teen skole vanuit Bloemfontein en Kimberley te speel. Ons dogterspan dra al vir etlike jare die kroon in die Thabo-Mofutsanyane streek en is tans die huidige ligawenners. Die res van ons spanne speel in die plaaslike TBM liga en daar word dus op die manier aan elke krieketliefhebber die geleentheid gegee om deel te neem.
Hierdie ongelooflike spel het die manier om ‘n mens nader aan die aarde te bring en jou te herinner aan die geleenthede wat ‘n mens gegun word in jou lewe om ‘n verskil te maak. Soos die lewe, kry mens gelukkige oomblikke waarin die bal reg wip terwyl sommige gevalle gekenmerk word aan ‘n rowwe kolfblad waar vrese bewaarheid word. Maar dit bly nietemin ‘n spel wat jou nederig maak en jou keer op keer nog ‘n kans bied.
Tydens die aanvang van die 2021 seisoen in September is verskeie van ons spelers ingesluit in die onderskeie streeks en provinsiale spanne:
Ons is ook dankbaar dat die opgradering van ons kolfblad wat teen einde 2019 afgehandel is ook vrugte afwerp. Dit is voorwaar ‘n voorreg om Ashtonvale krieketveld te betree. Ons sien uit na nog vele hoogtepunte gedurende die seisoen wat eers teen einde Maart 2022 ten einde loop.
TBM o18A:
Tshepo Motlaung
Vrystaat Platteland o16A:
Stephan Geldenhuis
Lesego Mosikidi
Johan Vorster
Dries Stemmet
Picture1
Vrystaat Platteland o17A
Lesego Mosikidi
Picture2
Vrystaat o15A:
Johan Vorster
Picture3
Vrystaat Dogters o16A:
Leozé Lottering
Picture4
Hierna volg die verslae vir die afgehandelde wedstryde in die 2021 seisoen:
Eerste Krieketspan:
T20 toernooi te Welkom (15-16 Okt 2021)
Ons eerste krieketspan het die afgelope naweek deelgeneem aan n’ T20 Kriekettoernooi in Welkom aangebied deur St. Dominics College. Hoewel dit vir menige spelers hul eerste wedstryde na twee jaar was asook n eerste keer in die eerstespan, is daar goed presteer:
Witteberg vs Gimnasium:
Witteberg kolf eerste en behaal n totaal van 155 vir die verlies van 5 paaltjies in hul toegelate 20 beurte. Johan Vorster vestig homself as Witteberg se anker in sy span se beurt en teken 80* aan van slegs 47 balle. Daarna word Gimnasium ingestuur en beperk tot slegs 152 vir 9 in hul 20 beurte. Gimnasium was goed op dreef om die knoop deur te haak maar is gestuit deur n puik driekuns deur Johan Vorster toe daar slegs 16 lopies van 3 beurte benodig was. Hy spog met syfers van 3 vir 11 in 3 beurte en is goed ondersteun deur Stephan Geldenhuis wat 2 vir 27 in sy 4 beurte geneem het en Ruan Barnard wat 2 vir 31 platgetrek het in sy toegelate 4 beurte. Witteberg wen eindelik die wedstryd met 3 lopies.
Witteberg vs Aliwal-Noord:
Witteberg kolf eerste en behaal n totaal van 168 vir 7 na 20 beurte. Stephan Geldenhuis (68* van 53 balle) en Johan Vorster (57 van 33) het gesorg vir opwinding met die kolf. Aliwal-Noord word daarna beperk tot slegs 135 vir 4 in hul 20 beurte. Lesego Mosikidi was sekuur met die bal en staan slegs 7 lopies in sy drie beurte af. Stephan Geldenhuis eindig ook met mooi syfers van 1 vir 23 in sy 4 beurte. Witteberg wen dus die wedstryd gemaklik met 33 lopies
Witteberg vs Trio:
Witteberg kolf weereens eerste en teken 143 vir 7 in 20 beurte aan. Dries Stemmet wat vanuit die staanspoor goed gekolf het word ongelukkig uitgehardloop op 44 waarna Johan Vorster (29) en Christiaan Schoonraad die langsteuel ingelê het om Witteberg tot by die billike totaal te kry. Daarna begin Trio kolf en het vinnig gesorg dat daar vêr vondie verwagte tempo gekolf moet word. Louis Boshoff van Trio se uitmuntende beurt van 127* van 45 balle besorg aan Trio n oorwinning van 7 paaltjies.
Picture5.jpg
Eerste Krieketspan tydens die T20 toernooi te Welkom.
Krieketnaweek te Bloemfontein (22-23 Okt 2021)
Vrydag 22 Okt: T20 vs Fichardtpark
Reënweer gedurende die oggend het veroorsaak dat die wedstryd 45 minute laat begin het. Die vogtigheid in die lig en in die kolfblad het daartoe gelei dat Dries Stemmet vir Fichardtpark ingestuur het om eerste te kolf. Daar word aanvanklik teen n geweldige hoë tempo gekolf maar Ruan Barnard (3 vir 37 in 4 beurte) en Lesego Mosikidi (2 vir 11 in 4 beurte) draai die wedstryd terug in Witteberg se guns. Fichardtpark word op die ou end almal uitgeboul vir 132 lopies in die 19de beurt. Daarna gaan kolf Witteberg en verloor hul eerste 3 paaltjies vinnig. Dries Stemmet (68) en Johan Vorster (26) trek die wedstryd egter mooi terug en tesame met Stephan Geldenhuis (14) word die wenlopies aangeteken met 8 balle oor. Witteberg wen gemaklik met 6 paaltjies.
Saterdag 23 Okt: 50 Beurte vs Sentraal
Witteberg wen die loot en gaan kolf eerste op n winderige en warm dag. Wian vd Merwe (27) en Johan Coetzee (40) sorg dat Witteberg se eerste paaltjie eers kantel na ‘n 57 lopie vennootskap. Dries Stemmet teken sy eerste 100 tal vir Witteberg aan en eindig op 112 van 85 balle, ‘n puik kolfbeurt op n baie stadige blad. Hy word goed ondersteun deur Stephan Geldenhuis 61 van 60 balle en saam was hul die anker in Witteberg se kolfbeurt. Ruan Barnard se kort en kragtige beurt (19 van 9) in die laaste 2 beurte verseker dat n wentotaal van 358 aan Sentraal gestel word. Hul kolfbeurt begin ook teen n goeie lopietempo maar gereelde paaltjies wat val, ry dit in die wiele en baie goeie uithardlooo deur Dian Strydom stop Sentraal se kans om enogsons naby die wentotaal te kom. Johan Vorster (1 vir 18 in 5) en Ruan Barnard (1 vir 23 in 5) het goed geboul vir Witteberg. Dit is egter die boulvertoning van Stephan Geldenhuis ( 2 vir 4 in 5.2 beurte) wat die hoogtepunt van Witteberg se boulaanval was. Teen die einde van die beurt laat MC Smith (2 vir 27 in 4) ook 2 paaltjies kantel met sy draaiballe. Sentraal word almal uitgehaal vir 168 lopies en verseker aan Witteberg ‘n oorwinning van 189 lopies.
As langer weergawe van die spel was dié aanskoulike wedstryd ‘n positiewe een om die seisoen mee af te skop!