Witteberg beskik oor seuns en dogterskrieket waarvan die 1ste dogtersspan hul liga jaarliks oorheers. Die sandsteen krieketklubhuis is eie aan ons Oos-Vrystaatstreek met puik fasiliteite vir elke krieketspeler.
Hierdie ongelooflike spel het die manier om ‘n mens nader aan die aarde te bring en jou te herinner aan die geleenthede wat ‘n mens gegun word in jou lewe om ‘n verskil te maak. Soos die lewe, kry mens gelukkige oomblikke waarin die bal reg wip terwyl sommige gevalle gekenmerk word aan ‘n rowwe kolfblad waar vrese bewaarheid word. Maar dit bly nietemin ‘n spel wat jou nederig maak en jou keer op keer nog ‘n kans bied.
In die Griffonsliga het Witteberg gemengde welslae behaal met sy 1ste span. Ons het onder ander die volgende wedstryde gespeel:
Klop Henties Cilliers met 10 paaltjies
Klop Blouskool met 114 lopies
Kaptein Regardt Botes teken ‘n briljante 118 nie uit nie aan met die kolf.
Verloor vs Goudveld met 9 paaltjies
Klop Rooiskool met 41 lopies
Verloor vs Kroonstad HUB met 10 paaltjies
Punte gedeel vs BVHS – Wedstryd uitgereën
Verloor vs St Dominics met 35 lopies
Ons 1ste span slaag nie daarin om die finaal te haal in die 2018-2019 liga nie, maar as ‘n span wat uit baie graad 10’s bestaan word waardevolle ervaring opgedoen.
In die Griffonsliga het ons o/15A span sover die volgende prestasie behaal in die 2019 liga:
Klop Welkom Gim met 70 lopies.
Andre du Preez neem 5 briljante paaltjies om te keer dat Gim se jaagtog naby kom.
Klop Blouskool met 149 lopies.
Ontvang punte vanaf Henties Cilliers
Die o15 Liga hervat in die 4de kwartaal van 2019 en Witteberg het na sy goeie begin ‘n baie goeie kans om die liga te wen. Daar is wel baie krieket wat gespeel moet word, maar die ons jong manne is hard aan die werk.
In die Thabo Mofutsanyana Liga waarin ons Dogters, 2de span en o/15B span deelneem het dit heel goed gegaan.
Ons dogters is weereens in 2018 as die Thabo Mofutsanyana-ligawenners gekroon en sluit die seisoen onoorwonne af. Hoewel ons 2des en o15B span verskeie seges behaal het, is dit jammer dat die spanne nie die onderskeie ligas mag wen nie. Die ander deelnemende skole het slegs ingestem om teen Witteberg se o15s en 2des te kompeteer, sou die spanne tesame met BVHS se spanne, net vriendskaplik deelneem en nie mag aandring op ligapunte nie. Iets waarby ons ingestem het bloot om deelname vir ons seuns te kry.
Tydens die 3de kwartaal sal ons o15 spelers en senior spelers weer die geleentheid kry om aan die streeksproewe en toernooie deel te neem. Elke jaar lewer ons ‘n aantal spelers op wat hierdie spanne verteenwoordig, Voorwaar iets waarop ons trots is en waarna ons uitsien.
Ons sien ook met afwagting uit na die hervatting van spel op ons nuut oorgeboude kolfblad wat met nuwe turf en gras herstel is. Die pragstuk tesame met ons mooi unieke sandsteenklubhuis maak dit beslis die plek om die Gentleman’s game in die somertyd te speel.