Vooruit

Search
Close this search box.

MATRIEKUITSLAE 2020

Share It:

GEEN PLAASVERVANGER VIR HARDE WERK!

Hoërskool Witteberg vir soveelste jaar aangewys as top-akademiese skool in streek.

Die jaar 2020 was in soveel opsigte ‘n uitsonderlike jaar, maar nie eens ‘n globale pandemie kon die toegewyde onderwysers en hardwerkende matriekleerders van hierdie spogskool keer om voort te gaan om soos alle ander jare ryke uitslae in te oes nie.

Die klas van 2020 slaag daaring om 221 onderskeidings te behaal. Almira Cloete, Dux-leerling, word aangewys as een van die top-50 leerlinge in die Vrystaat – dit terwyl 6 van haar klasmaats ook 7 vakonderskeidings behaal het. Personeellede en matriekonderwysers is ook verheug en dankbaar oor die uitermatig hoë Universiteitstoelatingspersentasie wat die groep kon handhaaf. 86.84% van leerders kan in 2021 hul studies voortsit by hoër onderwysinstellings.

Nóg ‘n merkwaardige prestasie is dat die gedugte Wiskunde-en Fisiese Wetenskapspan van Mevv. Anne-Marie de Jongh en Selbie Swart vir ‘n derde keer agtereenvolgend aangewys is as die wenners in die Vrystaat. Die uitsonderlike gemiddeldes wat leerders van dié onderwysers handhaaf, is ongehoord en, ten midde van baie struikelbokke, kon hul nogtans daarin slaag om hul doelwitte te bereik. Die Afrikaansdepartement behaal ook uitsonderlike uitslae: Witteberg eindig derde in die Vrystaat met Afrikaans Huistaal en tweede in die Vrystaat met Afrikaans EAT.

18 Vakke van Witteberg eindig na afloop van die NSS Eksamen onder die Top 10 in die Vrystaat.

Mnr. Henry Klindt, Kringbestuurder in die Thabo Mafutsanyana-streek, het tydens ‘n informele geleentheid die onderwysspan van Witteberg gelukgewens met uitslae behaal in 2020. Tydens hierdie geleentheid noem hy dat dit vir hom merkwaardig is dat die onderwysers planne in plek gestel het om leerders by te staan tydens die grendeltydperk. Hy voeg ook by dat Witteberg aangewys is as die nommer-een skool in sy streek. Die spanlede het vroeg al in die grendeltydperk planne gemaak om op die verbruikersvriendelike platform, Google Classroom, te registreer en op dié manier al die lede van sy skool te bereik.

Mnr. Hannes Oosthuizen, waarnemende skoolhoof, loof die personeel vir hul toewyding en aanpassingsvermoë. “Die onderwysers van die matriekklas van 2020 het net eenvoudig aangegaan. Hulle het, al was hulle onder druk, met entoesiasme en kalmte hul leerders gelei om hul beste potensiaal te bereik. Ons is ook trots op die klas van 2020 wat vir ons almal wys dat jou onmiddellike omstandighede nie as verskoning moet dien om altyd jou beste te gee nie.”